Maverix Musiek
01/04/2026
: Nuwe enkelsnit vir Deon Human
Datum: 3 April 2026
DEON HUMAN PAK DIE LANG PAD AAN MET SY NUWE ENKELSNIT - "ONS TWEE"
Die talentvolle kunstenaar, Deon Human, het pas sy nuutste enkelsnit, Ons Twee, bekendgestel.
ʼn Treffende popliedjie wat die emosie en opwinding van ʼn nuwe begin perfek vasvang.
“Hierdie liedjie vertel die storie van twee mense wat hul hele lewe moet oppak en trek na ʼn nuwe dorp of stad,” sê Deon oor die lirieke se betekenis. “Hulle laat vriende, familie en alles wat bekend is agter, maar in die proses besef hulle dat al het hulle alles verloor, het hulle nog steeds mekaar en dit is genoeg.”
Die lied gaan oor ʼn groot lewensverandering en word eerder uitgebeeld as mense wat ʼn nuwe avontuur aanpak, in stede van ʼn verlies. Die twee karakters benader hul nuwe begin as ʼn reis van hoop, drome en die belofte van iets nuuts.
Deon het self die lirieke geskryf, wat geïnspireer is deur sy eie lewenservarings, en op ʼn kreatiewe manier oorvertel word. Ferdinand Skead van Skead Records was verantwoordelik vir die produksie en het ook gehelp om die gevoel van beweging, verandering en emosie in die klank vas te vang.
Volgens die sanger vorm dié snit deel van ʼn groter tema waarmee hy tans werk: stories van mense wat moet oppak en trek – hetsy na ʼn nuwe dorp of selfs na ander lande. “Ek skryf deesdae baie oor mense wat hul lewens moet oor begin, wat alles agterlaat en die bladsy op ʼn nuwe hoofstuk omblaai. Dit is iets waarmee baie mense kan vereenselwig, veral met hedendaagse omstandighede,” verduidelik hy.
Ons Twee is sy sesde vrystelling, en die voriges het reeds goeie momentum opgebou. Sy musiek is al meer as 100 000 keer gestroom en sy aanhangersbasis bly groei. Interessant genoeg het sy snit Vat Nog ʼn Kans, wat hy aanvanklik ged**k het minder goed sou vaar, besonder goed op Spotify presteer, terwyl Ons is Dors groot sukses op YouTube behaal het.
Sedert sy laaste vrystelling, is Deon hard aan die werk om nuwe materiaal te skep, met verskeie liedjies wat in dieselfde tema en rigting beweeg. Alhoewel hy ook ʼn liefde vir punk rock het, ʼn genre waarmee hy groot geword het en lank beoefen het, fokus hy tans meer op sy Afrikaanse styl.
Sy planne vir die res van 2026 is ambisieus – hy wil gereeld nuwe musiek uitreik, met die doel om elke drie maande ʼn nuwe enkelsnit vry te stel.
Buiten vir die musiekbedryf bestuur Deon al vir die afgelope 14 jaar sy eie besigheid, waar hy meubels vervaardig vir verskeie meubelwinkels. Dis ʼn konkrete bewys van sy entrepreneursgees en harde werksetiek.
Die musiekvideo vir Ons Twee bied ʼn unieke benadering, aangesien dit met behulp van kunsmatige intelligensie (KI) geskep is. Die proses was uitdagend en tydrowend, maar het uiteindelik ʼn visuele produk gelewer wat perfek by die tema van die lied pas. Die video beeld twee mense uit wat hul tasse gepak het en op pad is na ʼn nuwe begin.
Die boodskap van die video is eenvoudig, maar kragtig en sluit by die betekenis van die lirieke aan: as ʼn mens mekaar het, het jy eintlik alles wat jy nodig het. Alles anders is bloot ʼn bonus.
Volgens Deon was die mees bevredigende deel van die skeppingsproses om die tegniese uitdagings te oorkom, veral om die lipsinchronisasie reg te kry. Dit was iets wat hy talle kere moes oor doen om die gewenste resultaat te bereik.
Met Ons Twee sing Deon Human nie net ʼn lied nie, maar ʼn storie van hoop, verandering en die krag van twee mense wat saamstaan. Aanhangers sal nuwe beginne met opwinding aanpak, solank hulle nie alleen is nie.
Dit is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms.
Kry dit hier: https://ffm.to/deon-human-ons-twee
Musiekvideo is beskikbaar:
Kry dit hier: https://www.youtube.com/watch?v=ydkMuMgGQ2I
Volg hom op sosiale media:
Facebook – https://www.facebook.com/deonhumanmusic
Instagram – https://www.instagram.com/gideonjhuman/
TikTok – https://www.tiktok.com/.human4
YouTube – https://www.youtube.com/
iTunes – Deon Human
Spotify – Deon Human
Artist Village
02/01/2026
Kunstenaar Fokus / Nuwe Vrystelling
Henri Alant stel nuwe enkelsnit “Wat Dit Vat” – ’n kragtige, hartroerende samewerking met Sunette Bridges uit die VSA vry.
“Doen wat dit vat” is deel van Stormloop 100… vrygestel deur Rivers & Bridges Music.
Afrikaanse musiekliefhebbers kan hulself regmaak vir ’n nuwe treffer uit die pen van een van die bedryf se mees geliefde stemme.
Henri Alant is terug met sy splinternuwe enkelsnit “Wat Dit Vat” - ’n lied wat reeds landwyd belangstelling wek en luisteraars diep raak met sy boodskap van hoop, volharding en menslikheid.
Hierdie besonderse enkelsnit is geskep in samewerking met die bekroonde Sunette Bridges, wat die lied geskryf en gekomponeer het.
Sunette, tans woonagtig in die Verenigde State van Amerika, bring ’n unieke internasionale warmte, wysheid en musikale aanslag na die projek.
Sunette, as ’n talentvolle sangeres, skrywer en verwerker, dra by tot die emosionele krag van hierdie lied — ’n ware gesinskunstenaars-samewerking oor kontinente heen.
Met ’n span top-musikante agter die klank, belig “Wat Dit Vat” die beste van Afrikaanse country, pop en storievertelling:
Vokale opnames: Christie Schutte van StarTrax Recordings
Dromme & Kitaar: Wium Roets
Klavier: Machiel Roets
Produksie & Klankingenieur: Wium Roets
Uitvoerende Vervaardiger: Sunette Bridges
Vervaardig: Rivers & Bridges Musiekateljee, VSA
“Wat Dit Vat” is meer as net ’n lied — dit is ’n persoonlike belydenis, ’n reis van geloof en groei, en ’n herinnering dat ware oorwinning juis lê in alles wat ’n mens opoffer om jou drome te bereik.
Henri se eie lewensverhaal is verweef in elke noot en woord, en dit laat die lied eerlik, rou en ongelooflik eg voel.
Meer oor Henri Alant
Henri se musiekloopbaan het begin op die mees nederige, maar betekenisvolle manier: hy is raakgesien by ’n musiekfees. ’n Bekende agent het sy talent raakgesien en hom gehelp om sy eerste demo op te neem — die beginpunt van ’n professionele reis wat sou lei na sy kontrak by Fantasia Musiek, saam met groot legendariese name soos Juanita du Plessis en vele meer.
In 2010 het hy sy debuutalbum vrygestel, en sedertdien bou hy hand-aan-hand saam met topagentskappe en bekende promotors — onder meer onder leiding van Ferdi Steyn by Artist Village.
Met ’n natuurlike stem, ’n liefde vir sy mense en ’n passie vir storievertelling, het Henri in 2011 die Tempo-toekenning vir Beste Nuweling ontvang.
Hy is veral trots op sy bekroonde duette, soos “Daar’s ’n Rede” saam met Jennifer Zamudio, en “Vergeet My Hier” saam met die gewilde Stephan Visagie.
Een van sy grootste loopbaanhoogtepunte bly sy optrede voor 5 000 mense by die Afrikaanse Musiekfees in Carnival City — ’n oomblik wat sy plek as geliefde kunstenaar in die bedryf bevestig het.
Henri is van Italiaanse afkoms en het grootgeword op ’n plaas in Wakkerstroom, iets wat sy musiek se warmte en menslikheid duidelik beïnvloed. Hy woon tans in Centurion, waar hy ’n balans vind tussen sy liefde vir musiek, kosmaak, leefstylinhoud en fotografie.
Elke lied wat hy sing, dra ’n stukkie van sy hart. Sy treffer “Rose”, geskryf vir sy moeder, het die nommer een posisie bereik en word steeds deur duisende mense gespeel wanneer hulle hul eie ma eer of mis.
Hierdie emosionele eerlikheid is deel van wat Henri se musiek so luisterbaar en eg maak.
Sy groot musikale inspirasies sluit wêreldkunstenaars in soos Faith Hill, Shania Twain, Avril Lavigne, Dolly Parton en The Bellamy Brothers.
Plaaslik is hy diep beïnvloed deur storievertellers soos Laurika Rauch en Steve Hofmeyr, wat hom help vorm het tot die liriese kunstenaar wat hy vandag is.
Planne vir 2026
2026 beloof om Henri se grootste jaar nóg te wees. Ná die sukses van “Wat Dit Vat” het hy en Sunette Bridges reeds die ateljee bespreek vir Januarie 2026 om aan ’n reeks nuwe liedjies te werk.
Hy beoog om die jaar deur meer te toer, nuwe dorpe en mense te ontmoet, en sy liefde vir Suid-Afrikaanse musiek verder te versprei.
“Wat Dit Vat” is nou beskikbaar op alle digitale platforms, én die AI-musiekvideo is reeds aan die rol.
Wat dit vat is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://open.spotify.com/album/6KD6VSxivc27VavMAam1kH?si=cTGPI6DlSOupNalKCgK4SA
Musiekvideo is beskikbaar op YouTube. Kry dit hier:
https://youtu.be/zXdM8Wqsi1I?si=aAp5gPZxTgnCOBPj
Volg hom op sosiale media:
Facebook: https://www.facebook.com/henri.alanttwee
TikTok: https://www.tiktok.com/?_r=1&_t=ZS-91kACAsObLB
Instagram: https://www.instagram.com/henrialant?igsh=dDVnZWNhNjY4Yndo
Artist Village
Wat dit vat - Single by Henri Alant | Spotify Henri Alant · single · 2025 · 1 songs
02/01/2026
Kunstenaar Fokus / Nuwe Vrystelling
Vellies Artist SE NUWE ENKELSNIT LAAT SKYN HOOP SOOS ’N LIGTORING VIR GETROUDE PAARTJIES
Vellies het in die kerk gesit toe die inspirasie vir Ligtoring hom beet gepak het. In ’n gebroke wêreld lê huwelike na-aan sy hart en hy wou sy deel bybring om positiwiteit te saai.
Dié enkelsnit, met sy ligte pop-aanslag, is uit die woordkamer van sy eie hart gebore en is deur homself en Calvin Botha vervaardig.
“Ek het ged**k aan ’n ligtoring waarna mense kan opkyk, soos jou man of vrou wat altyd by jou staan,” sê Vellies oor die hart van die lirieke. “Al kan dinge soms hoé sleg gaan sal julle dit altyd oorkom en lief bly vir mekaar.”
Die liedjie vertel verder die storie van ’n paartjie wat op ’n jong ouderdom ontmoet het en uiteindelik saam oud en grys word. Dit kon net sowel Vellies en sy vrou se eie verhaal gewees het, aangesien hulle deur ondervinding op baie vlakke kan vereenselwig met die tema van die liedjie.
Oor wat die publiek gaan d**k van die snit, sê die talentvolle musikant die volgende: “Die liedjie is klaar bekend gestel aan die publiek en daar is selfs mense wat huil wanneer hulle daarna luister. Dit is net ’n ongelooflike spesiale boodskap wat ek met die wêreld wil deel.”
Vellies glo dat baie mense opreg sal verstaan waaroor die lirieke gaan en as hulle mooi luister is die oplossing vir hulle uitdagings ook daarin saam geweef.
Ligtoring is die musikant se tweede enkelsnit. Sy vorige een, Whisper, is goed ontvang deur die publiek, maar hy glo dat hierdie een nog meer suksesvol sal wees onder aanhangers.
Whisper het vir tien weke lank die nommer een posisie geniet op die S.A. Country-trefferparade, waarna dit vir ’n verdere tien weke op die Top 10 agter gebly het. Die liedjie was ook vir drie weke lank nommer een op Vaal Stereo, waarna dit die opeenvolgende tien weke op die Top 10 gedraai het.
Leon Barnard van LB Videography het die musiekvideo in Umhlanga geskiet. Die span het geskiedenis gemaak toe hulle die eerste mense was wat ’n musiekvideo op ’n ligtoring opgeneem het.
“Dit moes juis ’n ligtoring wees want die video is simbolies en moet mense se harte aanraak. God moet jou Ligtoring wees wat jou op die regte pad deur die donker tye ly,” sê Vellies oor die musiekvideo se konsep.
Al was die weer besonders uitdagend, het die span darem drie ure in die oggend en drie ure in die aand gehad om die meesterstuk te voltooi.
Die agt-en-veertigjarige sanger het groot geword in Welkom in die Vrystaat, waar hy ook gematrikuleer het. Hy is op ’n jong ouderdom gekeur om by die Drakensbergse Seunskoor aan te sluit, maar weens finansiële omstandighede kon hy dit nie doen nie. Hy het toe vir die Vrystaatse Jeugkoor gaan sing.
Na skool het hy gaan studeer om ’n veldwagter te word. Sy studies het uitgebrei na baie ander dinge soos navigasie, noodhulp, vuurveiligheid en onder andere ’n coxswain-kursus.
Die veeldoelige man het ook by groot meubelkettingwinkels se bemarking betrokke geraak en promosiewerk gedoen. Hy het selfs by kroeë gewerk, waar hy soos vele ander kunstenaars die geleentheid gekry het om te begin sing.
Vellies het kort hierna uit die Vrystaat na Richardsbaai verhuis, waar sy musiekloopbaan baie sukses geniet en hy sy lieflike vrou ontmoet het. Tans is hulle al amper vyftien jaar lank getroud en het hulle ’n seun saam.
Die afgelope sestien jaar het hy wortels geslaan in die swysbedryf en deesdae is hy ’n bestuurder van ’n internasionale maatskappy, waar hy dit baie geniet om daagliks met mense te werk.
Werk is darem nie al wat hierdie besige kunstenaar doen nie. Hy het al die geleentheid gehad om by al die Sun International-casino’s in die land op te tree, sowel as by verskeie groot feeste en vertonings.
“Ek het al saam met suksesvolle kunstenaars soos Appel, Barto, Theuns Jordaan, Kurt Darren en Jo Black opgetree,” deel Vellies oor sy vorige optredes. “Ek het ook al die voorreg gehad om internasionaal te kon optree.”
Van groot kunstenaars gepraat, kyk Vellies op na name soos Theuns Jordaan, Elvis en Elton John as sy rolmodelle. Hy sal graag nog saam met Monique Steyn wou werk, want soos die groot name hier genoem weet sy hoe om haar kragtige stem ten volle te gebruik.
“My vrou inspireer my om sekere musiek te sing,” verklap die musikant oor waarvan hy hou om te sing.
“Ek hou van musiek wat met die hart praat en mense bymekaar bring.”
Iets wat nie baie mense van Vellies weet nie, is dat hy nie regtig na musiek luister nie. Hy sal soms na kunstenaars soos Appel, Juan Boucher en Jan Blohm luister, maar hy vind deesdae nie meer baie musiek wat in sy genre pas nie.
Nog ’n interessante feit wat min mense van hom weet, is dat hy op die Top 50 beland het in die heel eerste seisoen van die Suid-Afrikaanse Idols.
“Die musiekbedryf is nie maklik nie,” sê hy oor die lesse wat hy al geleer het. “Ek leer baie uit wat ander suksesvolle kunstenaars doen en dan pas ek my musiekstrategies daarvolgens aan.”
Die hoogtepunte wat hy in 2025 bereik het, was om twee enkelsnitte vry te stel, waarvan die een Afrikaans is en waarop hy baie trots is. Vir die volgende jaar sal hy graag op die selfde trant wil voortgaan en nog vier vrystellings doen en wil hy ook graag deur ’n groot platemaatskappy raakgesien word.
Ligtoring is die perfekte liedjie vir pare wat weet waar hulle krag vandaan kom en Vellies hoop dat aanhangers net soveel inspirasie en krag daaruit sal put soos wat hy gehad het toe hy die lirieke geskryf het.
Die enkelsnit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://social.tunecore.com/linkShare?linkid=b13dd1v3I4b-OmjZsPgsHg
Volg hom op sosiale media:
Facebook –https://www.facebook.com/share/17PQxUJu4C/
Instagram –https://www.threads.com/
YouTube – https://youtube.com/?si=5UagV-I6dwMLgq8k
Artist Village
Ligtoring Ligtoring
Click here to claim your Sponsored Listing.
Category
Telephone
Website
Address
1295B Esser Street
Pretoria
0182
Opening Hours
| Monday | 08:00 - 17:00 |
| Tuesday | 08:00 - 17:00 |
| Wednesday | 08:00 - 17:00 |
| Thursday | 08:00 - 17:00 |
| Friday | 08:00 - 16:00 |