Sy is getroud met Lorenzo en het 2 dogters: Carla en Lisa. Hulle verruil later die stadslewe vir die mooie dorpie George in die Tuinroete. Einde 2017 het sy sensasie in haar voete en hande begin verloor, en vroeg Januarie 2018 is sy gehospitaliseer met verlamming in haar bene en arms. Na weke se toetse en behandeling word sy gediagnoseer met POEMS sindroom (neuropatie) en multiple Myeloma kanker.
Na 128 dae in die hospitaal in rehab, keer sy terug huis toe waar sy amper niks vir haarself kon doen nie. Verlam in haar bene en arms en hande en so so verswak dat sy nie ‘n potlood kon vashou, haarself kon was of aantrek nie. Die hele gesin se lewe is so verander. Haar man moes die huishouding oorneem en kinders moes help waar hul kon. Na maande se chemoterapie, gebede en ondersteuning het haar arms en hande se senuwees stadig begin herstel. Teen einde 2018 kon sy haarself weer versorg en met ‘n rolstoel hanteer. Op 29 Januarie 2020 ondergaan sy n stamseloorplanting in die Kaap waar sy vir 3 maande deur haar skoonsuster Sariaan versorg en op die hande gedra is. In die hospitaal help die fisioterapeut haar om met behulp van haar knieë en arms en loopraam op te staan...al het se nogsteeds geen gevoel in haar voete nie. Die herstel en genesingproses na die oorplanting was stadig. Daar was baie dae wat die lewe so donker was, dat sy gevoel het dat haar lewe niks meer werd is nie. Met die krag en genade van die Here het Hy weer vir haar nuwe betekenis gegee, en het sy stadig maar seker geleer om haarself te hanteer in haar rolstoel, self te bak en brou en huistake te doen. Sy ontdek ‘n passie vir kleiwerk en pottebakkery, en begin eksperimenteer met nuwe resepte in die kombuis - sommer so vanuit die rolstoel! Uit al die gebak en geproe neem sy ‘n besluit om ‘n besigheid te begin en tuisgebak te verkoop. Haar gebed was: “Here nou moet U my help...ek gaan doen wat ek menslik self kan doen, doen U die res...ek gaan net op U vertrou. Die lewe het nuwe sin en betekenis vir my. Ek het geleer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie, wil ander bemoedig en help, waardeer die klein dingetjies in die lewe en is dankbaar vir soveel genade. Dan is daar elke dag Hoop!”
Deesdae bied sy SumMore se klasse aan die tuinroete, en leer mense hoe om 6 soorte kaas te maak, hoe om met soetsuurdeeg te bak, hoe om self geskenke te maak, en nog baie meer! Sy is so opgewonde om hierdie nuwe jaar aan te durf met die hulp van die Here. Na Dertig jaar se huwelik, en die grootmaak van twee beeldskone dogters, is Sumari reg vir die uitdagings. Bespreek gerus 'n klas by haar by 0832930268 - dit is n belewenis!